|
|
Riverview Primêr
Wes – Kaap Onderwysdepartement
Posbus 580, Worcester, 6849
Tel. no. 023 – 34 71917 Faks no. 023 – 34 21942
E – pos : [email protected]
Prinsipaal – Mnr. Jonathan Daniel Africa
BELEID OOR SOSIALE MEDIA EN SOSIALE NETWERKING
1. Definisies
Die volgende woorde en terme het dieselfde betekenis as wat in die Riglyne vir Sosiale Media en Sosiale Netwerking daaraan geheg is:
“kind” beteken ’n persoon wat jonger as 18 jaar is;
“kuberafknouery” verwys na opsetlike en herhaalde leed wat deur middel van rekenaars, selfone en ander digitale toestelle aangedoen word;
“sosiale media” beteken ’n versameling interaktiewe aanlyn platforms en instrumente wat deur individue, groepe en organisasies gebruik word om inhoud, profiele, menings, insigte, ervarings, perspektiewe en media te deel. Dit maak die skep en uitruil van gebruikergeskepte inhoud moontlik;
“sosialenetwerk-webwerf” beteken ’n webgebaseerde diens wat individue in staat stel om:
(a) ’n openbare of gedeeltelik-openbare beeld te bou; (b) kontakte of vriende met ander gebruikers te deel; en
(c) hul lyste met kontakte of vriende en dié wat deur ander binne die stelsel gemaak is te besigtig; die aard en terminologie van hierdie kontakte of vriende mag van webwerf tot webwerf verskil; en
“toegang” beteken die reg, geleentheid of befondsingsmiddele, of herwinning van inligting.
2. Wetsraamwerk
Hierdie beleid word onder meer gesteun deur: Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996
United Nations Convention on the Rights of the Child, 1989
Suid-Afrikaanse Skolewet, 1996 (Wet 84 van 1996)
Wet op die Indiensneming van Opvoeders, 1998 (Wet 76 van 1998)
Wes-Kaapse Wet op Provinsiale Skoolonderwys, 1997 (Wet 12 van 1997)
Western Cape Government Social Media Policy, 2014
Wet op Elektroniese Kommunikasie, 2005 (Wet 36 van 2005) Wet op Films en Publikasies, 1996 (Wet 65 van 1996)
Wet op Beskerming teen Teistering, 2011 (Wet 17 van 2011)
Strafproseswet, 1977 (Wet 51 van 1977)
Wysigingswet op die Strafreg (Seksuele Misdrywe en Verwante
Aangeleenthede), 2007 (Wet 32 van 2007) Wet op Outeursreg, 1978 (Wet 98 van 1978) Children’s Act, 2005 (Wet 38 van 2005)
Wet op die Reëling van Onderskepping van Kommunikasie en Verstrekking van Kommunikasie-verwante Inligting, 2002 (Wet 70 van 2002)
Riglyne oor e-Veiligheid in Skole, Departement van Basiese Onderwys, 2010
3. Doel
Die doel van hierdie beleid is om:
(a) die gebruik van sosiale media en sosiale netwerking by Riverview Primêr te reguleer;
(b) die geleenthede wat multimedia-geletterdheid kan bied, op ’n verantwoordelike en respekvolle wyse aan leerders te bied ten einde die onderrig- en leeromgewing in ons skool te verryk;
(c) die verantwoordelikhede en gedrag te skets wat van werknemers, leerders en hul ouers as gebruikers van sosiale media en sosiale netwerking verwag word, in die besonder dat:
(i) alle lede van die Riverview Primêr skool -gemeenskap en verteenwoordigers van die skool verantwoordelikheid aanvaar vir die inhoud wat aanlyn geskryf, opgeneem, vertoon, geplaas of gekommunikeer word;
(ii) hulle ter aller tye goeie oordeel en gesonde verstand aan die dag moet lê by oorweging van enige van die aktiwiteite in subparagraaf (i) genoem;
(iii) deelname op sosiale media en sosialenetwerk-webwerwe tot die oortreding van skoolreëls en die leerders se Gedragskode mag lei, of strydig met bestaande wette mag wees; en
(iv) die gebruik van of deelname op hierdie webwerwe nie die
skool se naam negatief mag raak of die skool se reputasie mag skaad nie.
4. Omvang
Hierdie beleid is van toepassing op alle werknemers, leerders en hul ouers by Riverview Primêr.
5. Sosiale media en sosiale netwerking
Sosiale media en sosiale netwerking word gebruik om:
(a) aan aanlyn kommunikasie deel te neem ten einde ’n belangstelling te deel en kennis te verwerf of te deel;
(b) musiek, kunsvideo’s of menings te deel, saam te werk aan werk of besprekings en by mekaar te leer;
(c) te sosialiseer deur kontak te hou met bestaande vriende en nuwes te vind, en om die bevordering van ’n saak of produk te kanaliseer;
(d) gebruikers in staat te stel om vinnig en doeltreffend met mekaar te skakel, veral in ’n professionele omgewing;
(e) professionele of persoonlike doelwitte na te streef deurdat gebruikers hul menings, waardes en ervarings deel, of indrukwekkende aanlyn CV’s skep; en
(f) met lewenslange leer te help en praktykgemeenskappe te skep.
6. Aspekte vir oorweging in ons skoolomgewing
Werknemers, leerders en hul ouers by Riverview Primêr moet die volgende behoorlik by die gebruik van sosiale media en sosialenetwerk- webwerwe oorweeg:
(a) Soos met alle aanlyn kommunikasie-instrumente moet die
sosialemedia-omgewing bestuur word sodat dit nie allesoorheersend word nie.
(b) Daar moet op outeursregwetgewing gelet word wanneer hierdie media gedeel word, en ook dat verandering aan enige werk, kommentaar of plasing sonder toestemming van die skrywer die reputasie van die skrywer en ander partye kan raak. Toestemming moet ter aller tye verkry word.
(c) Privaatheid en omsigtigheid moet toegepas word, aangesien enige kommunikasie wat vir ander gebruikers gestuur en/of in die openbare domein geplaas word, erkenning van die bron moet gee.
(d) Sosialemedia-netwerke is dikwels sigbaar vir mense in die gebruiker se professionele asook persoonlike lewe. Hierdie vervaging van sosiale en professionele grense kan tot lastige of onvanpaste onthullings lei, byvoorbeeld wanneer opvoeders en leerders mekaar op sosiale media uitnooi of met mekaar skakel, moet hulle besef dat aspekte van hul profiel vir ander leerders en werknemers sigbaar is.
(e) Gebruikers moet hulself vertroud maak met privaatheidstellings en die deel van inligting wat hulle dalk nie in die openbare domein wil hê nie, vermy.
(f) Gebruikers moet beeldmateriaal of onvanpaste boodskappe wat ’n ander individu se reputasie later in sy of haar lewe in gedrang mag bring, vermy of nie deel nie.
7. Verantwoordelikhede met betrekking tot sosiale media en sosiale netwerking
7.1 Die skool
Die skool moet ʼn beleid oor die gebruik van sosiale media opstel en dit formeel daarstel ten einde:
(a) leerders en werknemers in verband met gepaste etiket vir elke aanlyn omgewing te sensitiseer; leerders op te voed oor kritiese denkvaardighede en digitale geletterdheid om hulle in staat te stel om veilig deur die aanlyn wêreld te beweeg;
(b) leerders te lei om die behoefte te begryp om die mees geskikte kommunikasie-instrumente vir hul opvoedkundige en sosiale ervarings te kies;
(c) seker te maak dat leerders van die potensiële negatiewe gevolge van Internetgebruik bewus is;
(d) leerders op ʼn manier wat by hul ouderdom pas te leer oor die risiko’s en gevare verbonde aan die gebruik van sosiale media, veral as sommige van die risiko’s en gevare in sowel die huis- as die skoolverband voorkom (bv. kuberafknouery);
(e) leerders aan te moedig om verantwoordelik op te tree en bewus te wees van die gevolge wat met die gebruik van sosiale media geassosieer word;
(f) te spesifiseer wanneer en om watter doel die gebruik van sosialemedia-platforms aanvaarbaar is;
(g) te verseker dat aanlyn aktiwiteite wat deur opvoeders beplan word slegs webwerwe vir die gepaste ouderdomme insluit;
(h) leerders te lei om verantwoordelik te wees en onvanpaste gedrag of dade wat die skool en hul medeleerders negatief mag beïnvloed, te rapporteer;
(i) leerders en werknemers te adviseer oor gedrag wat strydig mag wees met die Gedragskode vir leerders asook strawwe wat opgelê mag word as hulle aan wangedrag of ernstige wangedrag ingevolge die kode, en van oortredings van toepaslike wetgewing in die geval van werknemers, skuldig bevind word;
(j) ’n prosedure in breë trekke te beskryf vir voorvalle wat ’n potensiaal vir strafregtelike aanspreeklikheid mag hê;
(k) voorvalle met kinderbeskermingskenmerke te akkommodeer;
(l) leerders en werknemers in te lig oor die beleid en seker maak dat die beleid dwarsdeur die skool sigbaar gemaak word; en
(m) ʼn addendum vir ondertekening deur elke ouer, opvoeder en leerder in te voeg.
7.2 Die Veiligeskoolkomitee
(a) ’n Span binne die Veiligeskoolkomitee van Riverview Primêr moet e-veiligheid te bestuur.
(b) Die span mag bestaan uit:
[(i) ’n lid van die skoolbestuurspan
(ii) die netwerkadministrateur
(iii) ’n IT-opvoeder
(iv) ’n opvoeder – lewensvaardighede- opvoeder
(v) ’n verteenwoordiger van die beheerliggaam
(c) Die hoofverantwoordelikheid van die span sal die ontwikkeling, implementering en toepassing van ’n aanvaarbare sosialemedia- beleid wees wat deur die Gedragskode vir leerders en werknemers by Riverview Primêr ondersteun word, en om te verseker dat:
(i) alle rolspelers by Riverview Primêr bewus gemaak word van die inhoud, die beleid en gevolge wat waarskynlik uit nienakoming sal voortvloei;
(ii) ouers aangemoedig word om redelike stappe te doen om te verseker dat leerders die beleid binne en buite die skoolterrein nakom; en
(iii) alle belanghebbers ingelig word oor die tipes voorvalle wat potensieel tot strafmaatreëls en moontlik strafregtelike aanspreeklikheid mag lei.
7.3 Verantwoordelikheid van ’n leerder
Leerders moet geleer word om:
(a) die wêreldwye omvang van sosiale media in gedagte te hou en hul plasings gepas te wysig of te beperk;
(b) vriendelik, eerlik, billik, deeglik en deursigtig te wees wanneer hulle sosiale media gebruik;
(c) te onthou dat hoewel die gebruik van sosiale media maklik, informeel, vinnig en goedkoop mag wees, is hierdie elektroniese boodskappe permanente, oordraagbare rekords wat die reputasie van die skool kan raak;
(d) toestemming te kry vir die gebruik van intellektuele eiendomsregte van
’n derde party of werknemer, insluitende outeursreg, patente, handelsmerke en video’s;
(e) te weet dat dit onwettig is om:
(i) by identiteitsdiefstal betrokke te raak;
(ii) aan haat- of kultuswebwerwe deel te neem;
(iii) gesteelde goedere op webwerwe te koop of te verkoop;
(iv) persoonlike inligting te onthul of vertroulike finansiële inligting met betrekking tot bank- en kredietkaarte bekend te maak deur onveilige bedrieglike webwerwe te gebruik; en
(v) inligting wat ’n ander individu se reputasie of waardigheid in gedrang mag bring te publiseer; dit word ook as teistering beskou om iets te doen wat hulle weet benadeling van ’n ander persoon kan veroorsaak, hetsy geestelik, sielkundig of fisies.
7.4 Verantwoordelikheid van die werknemer
(a) Die werknemer moet nooit aanlyn kommunikasie op ’n individuele basis met ’n leerder hê nie, maar altyd in groepsverband, vir opvoedkundige doeleindes en om inligting te de
(b) Die werknemer moet nooit leerders op sosiale media nooi of volg nie, behalwe op webwerwe wat spesifiek vir professionele doeleindes in ’n groepopset ontwerp is.
7.5 Verantwoordelikheid van die opvoeder
Die opvoeder moet:
(a) leerders lei om te verstaan dat wat in ’n klaskamer toelaatbaar is, aanlyn aanvaarbaar is en enigiets wat in ’n klaskamer ontoelaatbaar is, ook aanlyn onaanvaarbaar is;
(b) bewus wees dat aanlyn aktiwiteite ’n uitwerking mag hê op hul persoonlike reputasie, beeld en vermoë om met kollegas en leerders te verkeer;
(c) professioneel en hoflik wees wanneer hulle aanlyn met ander partye kommunikeer;
(d) die behoefte aan diskresie en vertroulikheid respekteer met betrekking tot persoonlike inligting en ander sensitiewe inligting wat dalk nie vir openbare bespreking gepas is nie;
(e) binne redelike perke poog om neutraal, objektief en professioneel te bly oor kwessies wat aangebied en bespreek word op opvoedkundige platforms of webwerwe wat vir opvoedkundige doeleindes bedoel is; en
(f) enige materiaal wat as aanstootlik, onvanpas, ontoepaslik, onhoflik of andersins hinderlik vir ander gebruikers is, oordeelkundig verwyder.
8. Nienakoming
Nienakoming deur leerders en werknemers moet ingevolge die skool se Gedragskode vir leerders, die Wet op die Indiensneming van Opvoeders, 1998 (Wet 76 van 1998) en die Staatsdienswet, 1994 (Proklamasie No. 103 van 1994) hanteer word.
9. Implementering van die beleid
10. Implementeringsdatum
20 Januarie 2019
........................................
MNR. J.D. AFRICA
RIVERVIEW PRIMÊR : PRINSIPAAL
..................................
MNR. C. JACOBS
VOORSITTER : BEHEERLIGGAAM
Categories: Beleids Dokumente
The words you entered did not match the given text. Please try again.
Oops!
Oops, you forgot something.